Search found 379 matches for AmmieMoon

AmmieMoon

Maan kinders - Sat 05 May 2012, 10:21 pm


vanaand wil ek my dogters bad onder die maan,
(geel drup reeds vir dae uit my vingerpunte)
die vettigheid van hierdie land kleef aan hulle jeugdigheid
die fleurigheid van jasmyn in jong meisie hare;

eva-rose wat bloei aan tippies, pers tot soetigheid
wit bloed in kleine lyfies oopsprei
as dons-karos vir 'n oeroue nag,

ek wag al eeue vir sterre om my kinders se spore
in sandduine onder die maan te lyn,
dese aand (oplaas)
vertoon my dogters groter as klein -

ek kantel 'n emalje waskom vol melk
(verhit deur vlamme in my asem)
vanaand wil ek my dogters bad onder die maan.


© 2012 Almarie Truter

AmmieMoon

Middelland - Wed 02 May 2012, 10:53 am





Hoe lank presies
sedert jou stem se gekabbel oor wit klippers ?
Herfs roes branderig teen berg klip boom
selfs die lou son -
begeerte loop ysvoet deur vroeë ryp
en bergganse skril in lae deur die kloof;

jy het beloof ons sou hierdie tyd van die jaar
saam brandhout soek vir winter,
ouhout wyne met wilde bessie asems
uit versteekte kelders gaar
vir komende diep nagte

nou splinter takke voor 'n ondergaande son
en grasvlaktes brand teen opgestikte nate van skemer
(ek haak vas tussen gister en nou)

tog knetter 'n rooi vuur tussen skouerblaaie
waar 'n oopte tussen bome my plek aanwys.

© 2012 Almarie Truter

AmmieMoon

Verlate - Wed 18 Apr 2012, 8:17 am



daar is 'n verlatenheid binne my my lam,
'n leegheid wat nesskop in mensverlate
ure van nag van nag, waar skynbeelde
flits teen sonarm mure, teen droomlose
strepe van middelnagure, wat geen toegang
verleen, selfs nie eens aan jou nie my lam,
want soms wit ek teen skadu's van ou
beweging waar ek tas na uitgeteerde spore
en voel ek in my enigheid verlore in 'n
verlatenheid binne my my lam, 'n verlatenheid
wat nesskop in leegheid van mensverlate ure
van die nag.


© 2012 Almarie Truter

AmmieMoon

Nirvana - Wed 18 Apr 2012, 8:13 am



Gedagtes lê soos 'n oopgeslane boek in hierdie nirvana
waar ek kwingkwang soek na jou silhoeët,
na die wit van jou kneukels wat afwys teen die maan.
Die lelies in my lyf ontplof
en nag word 'n kleurespel van sterrereën
toe ek jou effe verskuil teen 'n Kaapse geelhout sien staan.

Miskien moes ek jou jare terug reeds verban het
maar nagte dryf my ewig na buite,
na waar ek nog jou asem
teen die fyn klopping in my keel kan voel.
Hier staan ek nou tussen skouerblaaie van die aandwind
met 'n hunkering
wat soos vagevuur deur my ingewande woed.
Die lawaglas in jou kyk flits in klein blou kantelings
en opeens krimp die amber van voornag
tot 'n druppende kuip.
Goue paljas syfer deur my porieë
en ek swik voor die ontblote fynskrif
teen die palms van jou hande.
Nag word 'n diafaan kaatsing
en jy weet, soos ek
dat die verbode labirint in hierdie malse smag
teen dageraad soos 'n aanklag op ons gaan wag.

Steeds is jy hier, by my, rondom my
met jou muskus wat my penetreer,
wetend dat jy jou verslawing voed
met die wyn in my lyf
met my borste wat soos swanebrood
vlok teen jou -
en jy wat nog beskonke poog
om jou naam in skaduwees te skans.

Sou ek moes boet vir hierdie skimmel daad ?
Laat dit dan so wees.
Laat die uile en valke van die nag
dan nou my stom getuies wees.


© 2012 Almarie Truter

AmmieMoon

'n Volroom maan - Wed 11 Apr 2012, 6:34 pm

Dankie Johan en Claira, ek waardeer julle lees en inset soos altyd. Jip, liefde het 'n manier om die rondomtalie storms te stil en plek te maak vir 'n bodemlose diepte vol innerlike vervulling... Ek ervaar dit nou (maar vind dit nog moeilik om te verwoord)...dankie weereens!

AmmieMoon

Onwelkome Gas - Wed 11 Apr 2012, 6:28 pm

Jan Daniel, jy maak my trots om 'n ouer te wees asook 'n Afrikaner met 'n skrywers-stem ! Vandag het jy gepraat en die wêreld het notisie geneem ! Mag jou 'stem' nog luider eggo teen die kranse van Afrikaans in die toekoms.... Hierdie werkstuk spreek van diep innerlike sielswerk,asook ewe gepas as sosiale kommentaar in die hedendaagse samelewing ... Dis rou, die vrae wat gevra word is so relevant en die hulpkreet onmiskenbaar ! Ek begin eiehandig vir jou 'n mexican wave jongman.... Jy doen my taal eer aan ! Like a Star @ heaven

AmmieMoon

'n Volroom maan - Sun 08 Apr 2012, 11:07 pm




Laasnag het jy vir my
'n bed gemaak onder die maan.
'n Geel mot het geflapper teen
die straatlamp se glas,
jy het meedoënloos vir my
'n bed onder die maan ingepas.

Dit was net ek en jy.
Die maan het gestu tot teen ons enkels
en 'n sagte reën het begin neerdaal
binne my,
net ek en jy en 'n geswelde maan.

Wit het weerkaats teen jou ribbekas
en ek wou stuk stuk my woorde
teen jou lyf inpas
maar jy het geweet van die maan en my.

Jy het my gebaai onder
'n volroom maan.
Jy was (na almal)
die een wat verstaan.



© 2012 Almarie Truter

AmmieMoon

Paasfees vuur - Sat 07 Apr 2012, 2:04 pm



Die stad donder teen plate van grys beton
en iewers kriewel 'n kind in sy eie nageboorte.
Die grond gaap swart gate en sprinkane bid
sonder ophou voor grassade wat dor
in Afrika son.

Die mens bring groen offers vir klater,
vir vlerke wat soos 'n muilband keep
in gewitte vlees.
Arm is die vrygekoopte gees
wat gesigte sien in drome.

Teen 'n veraf heuwel
(tussen beendere van afgestorwenes)
skyn 'n kromgetrekte kruis,
waar asyn erodeer tussen murg en been.
'n Moeder ween.
Sy kon nooit kies nie,
nooit haar eie hart teen 'n hout vasspyker nie.

Die hemel skeur in twee
en iewers brand 'n wildevy tot as
ter kastyding van 'n goddelose volk,
word sonde 'n brandoffer vir 'n uitgediende aarde.

Steeds donder 'n stad teen grys plate van beton
en iewers kniel 'n ou man
voor vuisvoos knetters van 'n Paasvlam.

© 2012 Almarie Truter

AmmieMoon

Jy is hier - Wed 04 Apr 2012, 10:33 am


jou hande is berekend
en ek wonder oor die omvang van binnesag dye
wat dit al verken het
elke vroulike versugting wat jy al bevredig het
tydens middernagtelike swye
(die gordyne staan vol geasem met die aandwind)

ek absorbeer elke druppel olie uit jou hande
slurp gretig om 'n sewe jaar droogte teen my tong te les
die gebrek in woordeskat hoorbaar tussen kepe
van bevrediging
(deinings in my borste nou dunner as 'n sabel lem)

jou aankoms is dekades gelede reeds
teen die naghemel gelyn
met my al bibberend tussen naïwiteit en wellus
ewig soekend na die een borsholte
waar my hoof kan rus

nou is jy hier
en daar was geen manier
waarop ek my vir hierdie liefde kon voorberei nie
nou kraak die maan splinters in my lyf
en ek sukkel om oor jou te skryf

jou hande is berekend
en ek kreun toe nag aan stukke breek in ons bed.


© 2012 Almarie Truter

AmmieMoon

Blouer as blou - Fri 23 Mar 2012, 9:54 pm



die Cabernet glip teen eie pas tussen my newels in
en ek tap nag by die gelling
verlange is fel
jy sms die donders en weerlig wat oor jou horison speel
en ek vibreer
die neanderdal vrou binne my rebelleer
teen die onthouding van reën en van jou

'n kiewiet skril besete en 'n misbank oor die see
demp lettergrepe wat wurg in my krop
jou stem raak blouer as blou in my kop
(hierdie afwesigheid ry my bloots)

sou môre se dag jou nader bring aan my hande,
my koorsige lyf
ek probeer skryf maar verse kry vlerke en vlieg
die hele kamer vol
soos swaels wat sirkel voor 'n lang vlug na
'n warm seisoen
(ek onthou die lawa van jou tong)

kom soek my in my drome vannag, my lief
kom soek my waar ek fetus onder 'n feniks se vleuels
kom haal my uit waar ek saggies jou naam prewel
tussen donse van 'n vlugvoos voël.


© 2012 Almarie Truter

AmmieMoon

Rivier - Sat 17 Mar 2012, 9:19 pm



so sal ook 'n rivier deur my pen vloei
met pyn wat dobber waar visse slaap
ink se ongeduld slaag immer weinig
om 'n woorde vloed te keer

so sal ook 'n rivier deur my pen vloei
waar reëls stu teen slik en sluk
drenkeling aan't spartel in 'n waterval van waan
in die maalkolk van 'n skrywer siel

so sal ook 'n rivier deur my pen vloei
elke aand as ek teen stroomversnellings beur
want die hoop beskaam nie
dat 'n rivier jou uit my beendere sal spoel
uit jou duisternis wat my nag na nag verniel

laat die waters vloei
laat klippers blinklyf tussen son en bodem bak
so vloei lewe daeliks uit hierdie pen

sou ek moes droogdok vir selfbehoud ?

© 2012 Almarie Truter

AmmieMoon

Jou blou - Fri 09 Mar 2012, 2:56 pm



jy blou
teen my

waar jy presies vandaan gekom het
weet ek nou nog nie -
'n uil in die sipres het gebuik 'hoe' 'hoe'
en ek het by myself gedink
' ek het geen fokken clue nie '

skemer was bleker as voorheen
en ou sonstrepe het nog vaagweg
teen die horison geteem

die maan het haarself moeisaam
teen my einders opgehys
so asof sy jou koms wou verkondig,
jou witskrif teen my naghemel wou wys

naïef het ek koffie vir een
in my polka dot beker voorberei,
onbewus van jou groue en bloue wat
(tussen fyn gekerfde lagplooitjies)
wag op my

vanaand staan ek
met 'n gepoleerde glashout hart in my hand
en tooi my hare en lyf met die hemel,
met water, met lelies en met jou

want nou blou jy
teen my.

© 2012 Almarie Truter

Of a young man I once did dream - Fri 09 Mar 2012, 2:53 pm

...en is hy nie spesiaal nie....saam gaan julle nuwe horisonne breek en lewe in uiterstes beleef ( my vriend Benna doen niks half nie Laughing )....moet net nie dat hy van sy maan-tjommie vergeet nie !

Hierdie is 'n besonderse gedig met heerlike ongeforseerde woordspeling....ek is mal oor die refrein herhaling, dit bind al die gedagtes soos 'n goue draad ! Wel gedaan Janet ! Like a Star @ heaven

AmmieMoon

'n krop vol wit - Wed 07 Mar 2012, 7:24 am

vanmôre soek ek troos in 'n wit son
wat opwip uit 'n ander land se bodem
om my te verblind met die afstand tussen ons;

ek wil glo dat die lappe see tussen my en jou
in eiesoortigheid van glas en wonders blou,
dat tornyne op jou horison ons versugtings
bloots ry en dat jy, dat jy geen kleure spaar
in jou drome oor my nie

die maan hang soos lood tussen my borste
en brand gate van ys waar my oë staar
na 'n oseaan wat hortend hyg na my warm lyf -
my lyf wat soos wondroos ontspring in
gedagtes oor jou;

sal jy vandag 'n meeu na my kuslyn vol
stormskade stuur
met 'n krop vol blinkertjies en (as jy dit kan inpas)
'n botteltjie gevul met jou asem ?

kyk, wilde heuning drup uit my lende
en hierdie wit son smeer vanmore my verlange
teen deurkosyne en vensterrame
nog is het einde niet hierdie seer verdriet
van dae sonder jou

vandag stapel ek my verlange op 'n silwer bord,
sier dit met aarbeie en sproeiertjies somer
en kou langsaam tot skemerte my
onder hierdie bloeiende son kom uithaal.

© 2012 Almarie Truter

AmmieMoon

Die voorsienigheid - Wed 07 Mar 2012, 7:17 am

Jip, daardie verslaentheid wat soms soos voetboeie die mens se wandel kelder ....Ek kan die verlatenheid tog die desperate eiening van bestaansreg in hierdie werkstuk aanvoel. Dis heerlik om weer jou jong griffels onder oë te hê en soos altyd is dit vars en uniek aan jou eie styl. Welkom terug my vriend ! Like a Star @ heaven


Back to top

Current date/time is Mon 21 May 2012, 4:05 am