Search found 249 matches for Torm

Torm

as ek maar net kon - Fri 18 May 2012, 10:38 pm


ek wens ek kon
alle onreg vir jou verberg onder beton
en ek wens ek kon
aldag en heeldag
my net verlustig in jou warm hart se prag
en saam rose sny in die son

ek wens ek kon al jou seer besweer
as ek maar net dan en wan kan
en ek wil die duiwels
uit jou verlede verban
‘k wil die Genesis dorings en distels
met heil’ge vuur vir jou verteer

die vraag waarvoor jy
te veel styl het om te vra:
hoe lief is ek vir jou?
hoeveel druppels
in die Stille Oseaan?

© Torm 2012

Torm

Moeder - Sat 12 May 2012, 12:44 pm


smal
en grys
sit sy daar
wie sou kon sê sy het alles
en almal
op daardie twee skouers kon dra

en sag gesels
draai die kop
bakhand luister
wie sou kon sê sy het alles
gehoor en geweet en altyd
ter wille van ander
gewerk
swaar gedra
met bene wat nou so dun lyk

hierdie oudag is rustig
en die hemel weet wragtig
sy verdien dit
terwyl sy immer
probeer luister en kyk wyl sy sit
en dra
aan soveel harte

© Torm 2012

Torm

lykskouing - Sat 12 May 2012, 8:15 am


kyk dan hierdie twee voete
die liggaam het toe gesterf
voordat die sole deurgeslyt is van al die dra

kyk dan hierdie bene
spatare was toe meer blaf as byt
soos kierietjies later maar tot die einde was hul daar

kyk dan hierdie bekken
so onbeholpe en kranklik dog
die grootste prestasie van sy lewe het daar begin

kyk dan hierdie maag
oopgesny peul die vet vormloos
enigste monument van dinge wat lekker was aan die begin

kyk dan hierdie hart
lankal oopgesny van smart
tog het dit aanhou klop toe die res opgegee het

kyk dan hierdie brein
gedissekteer van te veel dink
eers pienk dan grys is al wat ons nou het van verbete verset

dalk moes die mens meer met sy hart gedink het
en die brein meer die lyf gevolg het in plaas van belet
maar hier op hierdie koue tafel is dit te laat
vir pret

© Torm 2012

Torm

Somtyds - Fri 04 May 2012, 6:18 pm

Hierdie is die oorspronklike Somtyds gedig met berusting langs die strand by die see.
Beware of cheap imitations. Mad

Torm

Die delwer - Fri 04 May 2012, 6:07 pm


Na jare van te veel son
en veels te veel donker
wys die prys wat hy betaal
in kromheid en stadig opstaan.
Vir swaarkry het hy begrip
hierdie delwer
en diep delf hy deur stof met staal
vir daardie blinker klip
tussen baie ander.

Die harde werklikheid van klip
en, van water, die sagte verweer
wys in verkreukelde hande
en vel soos gebreide bruin leer.
Maar sy oë blink nog helder
en hy kap en hy kap en hy sif steeds
hierdie delwer
vir daardie blinker iets
tussen baie ander.

© Torm 2012

Torm

Somtyds - Tue 01 May 2012, 4:20 am


somtyds kan net die see
aan my berusting gee
somtyds sien ek te veel
tussen die lyne, te veel
agter die skuiwe
van die skaakmeesters wat speel
met ons lewens en ons daaglikse
stryd om oorlewing;
hoor jy die dreuning
van woeste veraf waters as jy wakker
lê en dink hoe om jou eie akker
te verskans teen die donker water
tot die hadeda die dag breek met sy geskater

vat selwers die pad langs die strand af
met voetspore wat water trek en wegwas,
spoorloos weg in die eindelose see
wat ritmies deining op deining dans oor die kim

maar somtyds is die antwoorde so verstrengel
in eindelose rafels van dag na dag se sekondes
en alles wat gebeur het en gesê is
dat dit somtyds versmoor of benoud verwater
tot dit noodwendig later
net spoke van antwoorde word;
in die meedoënlose see van werklikheid stort -
dink hoe dobber dit onsigbaar daar
op deinings van eindelose dae rond

vat selwers die pad langs die strand af
met voetspore wat water trek en wegwas,
spoorloos weg in die eindelose see
wat ritmies deining op deining dans oor die kim

© Torm 2012
Met dank aan musiekmeesters Chris Rea en Depeche Mode wie se Sometimes liedjies se atmosfeer my inspireer.

Torm

deo volente - Wed 18 Apr 2012, 10:07 pm



as jy eendag my as gaan strooi
net nie in water nie
ek was altyd bang ek gaan verdrink
benoud oor longe wat smag na suurstof
onder die wrede water vasgedruk

as jy eendag my as gaan strooi
net nie by ‘n miernes nie
een insek is interessant
maar ek vrees ‘n gewriemel
asof dit my kop kan omsluit
onder die wrede wriemel vasgedruk

as jy eendag my as gaan strooi
net naby ‘n boom
nie in die kaalte sonder redding
van die warm son nie
te veel hitte maak my benoud
asof meedoënlose strale my longe vasdruk

maar eintlik hoop ek om eendag
van sulke dom dinge
ontslae
te wees
soos ‘n poeier op die wind
wat wragtig waai net waar hy wil

© Torm 2012

Torm

Machu Picchu - Fri 13 Apr 2012, 3:54 pm


wanneer miswolke soos sluiers van die hart
kortstondig lig oor die asemlose stad
kan ek sien, kan ek SIEN
hoe onbevredigde wrede drome
van Eldorado
plek maak vir die moderne mite
van Machu Picchu
amper so hoog soos die hemel
‘n skouspel van geil groen terrasse
met vore vol geseënde bergwater
die goudlose stad

soos ‘n skat
word die kennis ontgin
van die Intihuatana
wat die son kan vang
en die Tempel van Drie Vensters vanwaar
‘n grootse uitsig stort oor die kranse
van die Vilcabamba
maar laatnag slaaploop bleek spoke
van die Maagde van die Son
oor die blou maanlandskap na pleine
wat ons nou nog nie verstaan nie

soos ‘n skat
word die skoonheid ontgin:
die vernuwende krag van vergesigte
tussen ongemesselde mure van presiesheid
‘n beeldskone stad geskep sonder besigheid
niks is hier verkoop of gewin nie
net seremonies in tempels
en prikkelvars dun lug

maar om middernag sug
die bloed van vergrype om die altaar
en weerklink krete lankal vergete
(so vergete soos Pachacuti Inca se grootse glorie)
vanaf die grot in die Tempel van die Son
tot ver bo die woude
en die geskree van ape en papegaaie
oor die eng Urubamba hangbrug se vrees:
maar nog meer huiwerig is die wete
dat dit alles so
anders
kon wees

© Torm 2012

Torm

wense - Mon 09 Apr 2012, 4:23 am


ek wens ek kon
alle onreg vir jou verberg onder beton
en ek wens ek kon
aldag en heeldag
my net verlustig in jou warm hart se prag
en saam rose sny in die son

ek wil al jou seer besweer
as ek kan
ek wil die duiwels
uit jou verlede verban
en ek wil die Genesis dorings en distels
met heilige vuur vir jou verteer

die vraag waarvoor jy te veel
styl het om te vra:
hoe lief is ek vir jou?
hoeveel druppels in die Stille Oseaan?

© Torm 2012

Bipolar Bisection - Sun 08 Apr 2012, 6:42 pm

Still a very interesting piece of work!

Torm

1 April - Sun 08 Apr 2012, 5:59 pm

Baie dankie Claira!

Torm

1 April - Thu 05 Apr 2012, 7:22 pm


veraf eggo
een hond se blaf
mens kan net raai waaroor hy waarsku
êrens krul iemand van pyn
doodste stilte behalwe
die haan wat kraai
lank voor sonop:
as hy ware lig wil hê
sal hy baie meer as drie maal moet lawaai

stil skommel orden en verwerk
silikonbreine
ons persoonlike data oornag
vir die grys prosesse van die dag
in ʼn duisend kantoorblokke hier naby
en tien miljoen of meer elders
kyk hoe tap dit die planeet se krag
van die maan af verbeel ek my die groot aarde
se lig het ʼn oomblik geflikker

dalk in die oomblik se donker
het duisende lemme
en duisende skote
hul teikens getref
ʼn honderd verskuilde despote
(of was dit ook ander gierigaards,
in die donker sien ‘k skaars)
het hul heffings gehef
een miljoen of drie of dertig diewe
het hul hande
uitgesteek en gevat
ʼn virus het sy wens vervul
in die bloed van ʼn baba
die duiwel in ʼn bottel
het vir sy prooi gelag
terwyl ʼn biljoen soort arachnida
geduldig vir hulle s’n wag

en toe blêr die lig weer
van miljoene advertensies
blêr die klanke weer
van biljoene artikulasies
deur biljoene golwe
op miljoene frekwensies
en toeter en knars en grom
honderd miljoen petrolvrate
die duiwels vlug terug in hul gate

van die maan af verbeel ek my die groot aarde
bewe effens en sug in rook omhul
- geen April grap nie, ek gril -
en toe kraak dit êrens
smyt lawa of modder na nêrens
maak dit ʼn desperate brander
maar faal om iets te verander
en klik die kalender kil
oor na die eerste April


© Torm herskryf: 2012

Torm

Apokalips - Sun 25 Mar 2012, 6:01 pm



een van hierdie dae
gaan die uitspansel breek
en, soos my hartseer oor jou,
op pyn-verwronge planete stort

een van hierdie dae
gaan die berge losskeur
en, soos my hart in dié wete,
in die see val en reddeloos verdrink

een van hierdie dae
gaan boeke vol eina woorde
soos swart voorbodes van ons liefde
hartseer waar word in die grouste winter

een van hierdie dae
gaan die leërskare van soldate
ad hoc pyn en verwoesting saai
soos Openbaring sonder ʼn Wit Ruiter
en so, sonder einde, sonder vertroosting,
sonder jou
kan ek geen more in die oë kyk nie


© Torm 2011

Torm

Bloubergstrand II - Fri 23 Mar 2012, 10:30 pm

Baie dankie S.J. Ons deel ietsie.

Torm

Bloubergstrand II - Thu 22 Mar 2012, 10:41 pm


Wat anders kan ek sê as dat ek jou uitsig mis?
Soms is die werklikheid te naby en die berge te bruin.

Wat anders kan ek sê as dat ek jou eiland mis?
Daar was altyd êrens ‘n laagwater om tot daar deur te loop.

Wat anders kan ek sê as dat ek jou strandwind mis?
Ons het soms kar toe gevlug om toebroodjies sonder sand te eet.

Wat anders kan ek sê as dat ek jou mistige oopheid na Melkbos mis?
Dinge verander en ek sien nou veels te maklik die eindbestemming.

Wat anders kan ek sê as dat ek jou stukkende skulpe mis?
Stuk vir stuk kon ek heel word terwyl ek hul op hout collage.

Wat anders kan ek sê?

© Torm 2012


Back to top

Current date/time is Mon 21 May 2012, 4:13 am